SPESIALE NUUSBRIEF

BOKNES / CANNON ROCKS BELASTING BETALERS VERENIGING

SEPTEMBER 2021

Vestiging van Onwettige Strukture te Boknes Tuin Vullisterrein

Sedert die vorige gesamentlike nuusbrief in Julie 2021, het die Ndlambe Munisipaliteit daadwerklike stappe geneem om die probleem aan te spreek.

Daar is aanvanklik oorweeg om voort te gaan met regstappe en is die nodige aanvoorwerk in die verband geneem, en sal dit indien nodig voortgesit kan word.

‘n Noodsaaklike voorbehoud vir ‘n uitsettingsaansoek is dat daar alternatiewe persele beskikbaar moet wees waarheen die onwettige bewoners verskuif kan word.

Die Ndlambe Munisipaliteit het sodanige persele geïdentifiseer te Marselle en is daar besluit om eers in samewerking met die kantoor van die Premier gesprek te voer met die bestuur van die bewoners.

Op 25 Augustus 2021 het ‘n vergadering plaasgevind tussen die Amptenare van die kantoor van die Premier, die Speaker en verteenwoordigers van die Ndlambe Munisipaliteit en die onwettige bewoners.

Tydens die vergadering is bepaal dat geen verdere strukture opgerig mag word nie en dat die huidige onwettige bewoners verskuif moet word na die persele wat in Marselle beskikbaar gestel is.  Dit sal uiteraard tot hulle voordeel wees aangesien hulle daar toegang sal hê tot die nodige dienste.

Die Speaker van die Ndlambe Munisipaliteit sal die proses fasiliteer en is ons inligting dat dit vroeg September in aanvang sal neem.

Beide Verenigings is dankbaar vir die gebeure en van mening dat dit die beste uitkoms sal oplewer. Litigasie neem normaalweg lank om afgehandel te word en vertroebel verhoudings tussen die partye wat nie tot ons voordeel sal wees nie.

Die Verenigings sal voortgaan om die vordering te monitor en inwoners op hoogte hou van die proses.